Het jy geweet dat die virus wat “koorsblare” op of rondom die mond veroorsaak ook ander dele van die liggaam kan aansteek? Die infeksie word deur die herpes simplex-virus veroorsaak en is baie algemeen. Die meeste mense wat ’n herpesinfeksie het, weet dit nie eers nie. Hulle het dalk nie eers simptome nie, of let dit net nie op nie.
Vir mense wat simptome het, kan ’n herpes-virus as een of meer blasies wys. Hulle kan op of rondom die mond, oë, genitalieë of rektum wees. Nadat die blasies gebars het, verander dit in sere of swere. Hierdie sere is pynlik en neem ongeveer ’n week om gesond te word.
Sodra iemand deur herpes simplex besmet is, kruip die virus weg en bly in die liggaam vir die res van hulle lewe. Die virus kan weer te eniger tyd verskyn en ’n uitbreking veroorsaak. Sommige mense het ’n paar uitbrekings per jaar. Tinteling of ’n brandgevoel in die area kan die aanduiding wees dat ’n uitbreking op pad is.
Daar is twee tipes herpes simplex-virusse: HSV-1 en HSV-2. HSV-1 word dikwels tydens kinderjare oorgedra. Jy kan dit kry deur nabye kontak met iemand wat die infeksie het, byvoorbeeld ’n familielid met ’n koorsblaar kan ’n kind soen. HSV-1 is die hoofoorsaak van herpes van die mond of oë. Alhoewel dit moontlik is dat HSV-2 die mond of oë aantas, word dit meestal by die genitalieë aangetref.
Daar is geen geneesmiddel vir herpes nie. Anti-herpesmedisyne kan egter die herstel van die sere bespoedig. Indien dit elke dag geneem word, kan hierdie medisyne ook die risiko vir toekomstige uitbrekings verlaag. Dit is veral belangrik dat die eerste episode reg behandel word - die eerste uitbreking is gewoonlik die ergste. Benewens sere, kan jy ook koors en lyfseer hê. Die omliggende limfnodes kan ook geswel en seer wees.
Hou in gedagte dat herpes-uitbrekings bestuur kan word. Mense kan die risiko verlaag om iemand anders aan te steek deur tydens ’n uitbreking direkte kontak te vermy. Vir diegene met genitale herpes verlaag die risiko om ’n seksmaat aan te steek as jy elke dag antiherpes-medisyne drink en tydens seksuele aktiwiteit kondome gebruik.